Showing posts with label mengsel. Show all posts
Showing posts with label mengsel. Show all posts

Saturday, 26 December 2015

Queen Elizabeth

Queen Elizabeth kom nou aan die beurt. Liesbet is nou nie eintlik die konginin van die Skotte nie maar haar wiksie proe nie soos iets wat uit 'n poskoets uitgeval het nie, dit proe soos adelstand. Hierdie een is glad nie surerig soos die J&B wiksies nie. 

Hy is donker, romerig en ruik baie soos 'n houtvat. Baie gladdebek en vir 100 Randelas by Liquor City sal tot 'n suinige Skot nie te sleg voel om Liesbet huistoe te vat nie. Het hom nog nie met ys of water probeer nie, hy deug sommer lag-lag net so bloots. Sal hom beslis aanbeveel as jy meer van die swaarder geure hou met meer piets as van die ligte wiksies se knyp.

Johnnie Walker Black Label

Eens op 'n reendag by 'n partytjie het 'n baie gasvrye gasheer hierdie pikswart dapper stapper geskink. Ek moes hom toe weer nuttig om te kyk of hy so kordaat gestap het soos wat ek kan onthou.

Inflasie is 'n werklikheid en hierdie Johnnie Walker Black Label is tans rondom 300 randelas by Pick n' Pay se mansapteek. Nie te versmaaie nie, mens kan omtrent 2 goeie 'cheap' bottels wiksie aanskaf vir sy prys so besluit maar of dit die moeite werd is.

Hy kom saam met 2 baie windmakerige glase met 'n Kimberley tema: Daar is 'n diep gat en 'n diamantfatsoen onder elke een. Die trog is so diep jy skink 'n dubbel dan wonder jy of jy nou per abuis in Keith Richards se keelgat afgooi want dit lyk nie asof daar al enigsins aangeklam het in die glas as jy hom van die kant af kyk nie. Soos die kraai vlieg lyk dit wel asof Koos Kombuis uit die ding kon uitkruip. Om die waarheid te sĂȘ is ek meer in my skik met die glase. Sal maar nog 'n manier uitdink om die reklame af te vee.

Maar hoe smaak hy? Hierdie is 'n baie aangename puin wiksie. Normaalweg sou ek reken dis te duur vir wat jy kry aangesien mens soortgelyke gehalte van 'n Three Ships 5 jaar kan kry, maar hy is meer gerook en nie so glad soos die dapper stapper nie. Neus, voorsmaak, proe en nasmaak is baie ewesydig en daar is nie veel sprake van 'n gedaanteverwisseling tussen hierdie fases nie. Dis nie 'n ingewikkelde wiksie nie, maar as jy van die reuk hou is dit 'n staatmaker.

Barclays

Het iemand al die Eerste Nasionale Whisky aangepak? Barclays gaan vir rondom R100 per bottel en dis B259 as jy nou gewonder het aan watter tronkbende hy behoort, so hierdie Barclays gaan nie die bank breek nie. My hart se punt is nogtans Clan Campbell en ek moet nog ene opspoor wat beter waarde vir geld bied, maar Barclays kom naby vir my.

Om te vergelyk met Clan Campbell is om 'n rooikop met 'n blondie te vergelyk so dis heeltemal verkeerd. Clan Campbell is egter meer glad op die bek en mens kan dit met of sonder ys nuttig. Barclays het bietjie meer byt en gaan goed af saam met so 2 blokkies ys.

Dit proe vir my soos 'n Jameson as dit nou 'n Skotse sopie sou gewees het, met ander woorde bietjie meer suinig met die geur maar gretig met die stywe vuis. Jameson het nie soveel byt nie maar die geur is naby so ek reken hierdie een proe soos 'n hondsdol Jamesons wat jou gunsteling Springbok Radio Treffer op 'n doedelsak aanpak.

Voorwaar een van die beter armgat platsak wiksies wat ek al geproe het so as jy van die Skotse sopies hou en dink jy kan terugbyt probeer hom gerus.

Whyte and Mackay

Hierdie een is nader aan 'n honderd Randelas per bottel. Dalk effe duskant maar net oor die bult.
As jy hom bloots ry is daar dalk te veel mout vir meer as 'n knerts of twee. Ek vind met 'n suinige spatsel water is hy ideal, maar ys ruineer dit nes dit meestal maar doen met my palet.

Daar is twee leeus op die voorkant. Dis nou seker Whyte en Mackay. Hulle lyk hoogs ontstig, waarskynlik omdat ek nie die wiksie met hulle gedeel het nie.

Heel skaflik, met 'n swaarder mout smaak as meeste van die billiker dramme.
Terloops jy hoef nie 'n boomstroper romp te dra nie, die apteker sal dit elkgeval vir jou verskaf. Moenie vrae vra nie.