Friday, 27 May 2016

Grant's

Na my laaste kersiefles aandoening het ek heeltemal vergeet hoe die oorspronklike proe. Toe skaf ek maar die oorspronklike Grant's aan. Hy is omtrent so R170 per bottel, wat omtrent R150 is met inflasie oor die afgelope 2 jaar. En dan boonop sondebelasting. Mens moet mos alles wat goed is belas anders loop mense op hol met te veel pret en te min swoeg en sweet.

Eerstens, net so bloots. Dis 'n voorstaander van my tipe wiksie. Baie hout, min walms, glad nie suurerig of karnelerig of karamelerig nie. Net distilering in 'n skaflike vat. Maar laat hy vir homself praat, jy gaan dit nie berou nie.

Tweedens, met 'n paar blokke ys. Dit sal ook deug as jy nie daarvan hou om jou stem so op te neuk dat jy soos Janis Joplin of een van daardie Muppet-poppekas gaan klink eendag nie. Hy behou sy fatsoen, al is dit meer glansryk en tegemoedkomend. Ek verkies nogtans om bloots te ry, want ek skrik nie vir takke in die donker nie.

As jou begroting dit toelaat, sal ek voorstel dat jy beide hierdie een en sy kersievatniggie probeer. Hulle is altwee goeie kope, en ek hou van die driehoekige bottels. Ek hou ook van die driehoekige glase wat mens soms saam met hulle kry. Maar moet nie dat die bemarkingsfoeife jou mislei nie, dis 'n skitterende wiksie. Selfde met die kersievataandoening - hulle het hulle eie fatsoen, maar mens kan nogtans proe waar hulle vandaan kom.

Hoe proe hy nie? Glad nie soos die Cutty Shark of watookeal nie, glad nie soos Jakkals en Bolf nie. Daardie is die suurerige wiksies waarvan ek praat. Meer in die klas van 'n 100 Puipenaars. So besin maar of jy wil bly by die puipenaars en of jy die ekstra paar randelas wil opdok om iets anders maar nie te vreemd nie te probeer.
Gefällt mir

No comments:

Post a Comment