Showing posts with label ewesydig. Show all posts
Showing posts with label ewesydig. Show all posts

Saturday, 28 May 2016

Clan Campbell

My hart se punt. Of dalk meeste van die cholesterol punte wat in my hartkamers uitsteek. Nogtans my gunsteling billike wiksie, alhoewel die onlangse Koningin Liesbet en Glenbrynth glad nie te sleg vergelyk nie.

Met die eerste tongtippietoets hoor mens engele sing en harpe uit die hemel. Nogals donders onbeskof en onaangenaam, so jy moet meer slukke neem om die belhamel te kalmeer. Na nog 'n paar slukke hoor jy 'n geween en kners van tande. Dis nou meer my tipe leerore se salf. Gelukkig is daar glad nie swawel betrokke nie.

Hy is lekker glad, soos heuning om die mond en dit voel of jou bek jêm gekry het. Tog nie te hout nie, nie te mout nie, glad nie puinerig nie, alhoewel ek van die puin hou. Mens proe nogals graan en heuning en baie daarvan, maar nie 'n swaar mout smaak nie. Voorwaarlik, my gunsteling goedkoop wiksie en 'n riem onder die hart. Dis my ou staatmaker so ek sal dit vir enige iemand aanbeveel

Friday, 27 May 2016

Grant's

Na my laaste kersiefles aandoening het ek heeltemal vergeet hoe die oorspronklike proe. Toe skaf ek maar die oorspronklike Grant's aan. Hy is omtrent so R170 per bottel, wat omtrent R150 is met inflasie oor die afgelope 2 jaar. En dan boonop sondebelasting. Mens moet mos alles wat goed is belas anders loop mense op hol met te veel pret en te min swoeg en sweet.

Eerstens, net so bloots. Dis 'n voorstaander van my tipe wiksie. Baie hout, min walms, glad nie suurerig of karnelerig of karamelerig nie. Net distilering in 'n skaflike vat. Maar laat hy vir homself praat, jy gaan dit nie berou nie.

Tweedens, met 'n paar blokke ys. Dit sal ook deug as jy nie daarvan hou om jou stem so op te neuk dat jy soos Janis Joplin of een van daardie Muppet-poppekas gaan klink eendag nie. Hy behou sy fatsoen, al is dit meer glansryk en tegemoedkomend. Ek verkies nogtans om bloots te ry, want ek skrik nie vir takke in die donker nie.

As jou begroting dit toelaat, sal ek voorstel dat jy beide hierdie een en sy kersievatniggie probeer. Hulle is altwee goeie kope, en ek hou van die driehoekige bottels. Ek hou ook van die driehoekige glase wat mens soms saam met hulle kry. Maar moet nie dat die bemarkingsfoeife jou mislei nie, dis 'n skitterende wiksie. Selfde met die kersievataandoening - hulle het hulle eie fatsoen, maar mens kan nogtans proe waar hulle vandaan kom.

Hoe proe hy nie? Glad nie soos die Cutty Shark of watookeal nie, glad nie soos Jakkals en Bolf nie. Daardie is die suurerige wiksies waarvan ek praat. Meer in die klas van 'n 100 Puipenaars. So besin maar of jy wil bly by die puipenaars en of jy die ekstra paar randelas wil opdok om iets anders maar nie te vreemd nie te probeer.
Gefällt mir

Saturday, 26 December 2015

Johnnie Walker Black Label

Eens op 'n reendag by 'n partytjie het 'n baie gasvrye gasheer hierdie pikswart dapper stapper geskink. Ek moes hom toe weer nuttig om te kyk of hy so kordaat gestap het soos wat ek kan onthou.

Inflasie is 'n werklikheid en hierdie Johnnie Walker Black Label is tans rondom 300 randelas by Pick n' Pay se mansapteek. Nie te versmaaie nie, mens kan omtrent 2 goeie 'cheap' bottels wiksie aanskaf vir sy prys so besluit maar of dit die moeite werd is.

Hy kom saam met 2 baie windmakerige glase met 'n Kimberley tema: Daar is 'n diep gat en 'n diamantfatsoen onder elke een. Die trog is so diep jy skink 'n dubbel dan wonder jy of jy nou per abuis in Keith Richards se keelgat afgooi want dit lyk nie asof daar al enigsins aangeklam het in die glas as jy hom van die kant af kyk nie. Soos die kraai vlieg lyk dit wel asof Koos Kombuis uit die ding kon uitkruip. Om die waarheid te sê is ek meer in my skik met die glase. Sal maar nog 'n manier uitdink om die reklame af te vee.

Maar hoe smaak hy? Hierdie is 'n baie aangename puin wiksie. Normaalweg sou ek reken dis te duur vir wat jy kry aangesien mens soortgelyke gehalte van 'n Three Ships 5 jaar kan kry, maar hy is meer gerook en nie so glad soos die dapper stapper nie. Neus, voorsmaak, proe en nasmaak is baie ewesydig en daar is nie veel sprake van 'n gedaanteverwisseling tussen hierdie fases nie. Dis nie 'n ingewikkelde wiksie nie, maar as jy van die reuk hou is dit 'n staatmaker.