Saturday, 26 December 2015

Barclays

Het iemand al die Eerste Nasionale Whisky aangepak? Barclays gaan vir rondom R100 per bottel en dis B259 as jy nou gewonder het aan watter tronkbende hy behoort, so hierdie Barclays gaan nie die bank breek nie. My hart se punt is nogtans Clan Campbell en ek moet nog ene opspoor wat beter waarde vir geld bied, maar Barclays kom naby vir my.

Om te vergelyk met Clan Campbell is om 'n rooikop met 'n blondie te vergelyk so dis heeltemal verkeerd. Clan Campbell is egter meer glad op die bek en mens kan dit met of sonder ys nuttig. Barclays het bietjie meer byt en gaan goed af saam met so 2 blokkies ys.

Dit proe vir my soos 'n Jameson as dit nou 'n Skotse sopie sou gewees het, met ander woorde bietjie meer suinig met die geur maar gretig met die stywe vuis. Jameson het nie soveel byt nie maar die geur is naby so ek reken hierdie een proe soos 'n hondsdol Jamesons wat jou gunsteling Springbok Radio Treffer op 'n doedelsak aanpak.

Voorwaar een van die beter armgat platsak wiksies wat ek al geproe het so as jy van die Skotse sopies hou en dink jy kan terugbyt probeer hom gerus.

No comments:

Post a Comment