Saturday, 26 December 2015

Thomson & Gray

Ek het pas 'n bottel Thomson & Gray aangeskaf vir omtrent R120. Mens kan dit wel goedkoper kry en dan gee hulle vir jou soda water ook nog. Ek wonder oor die koolsuurgas in soda water. Dit moet tog bydra tot klimaatsverandering, so doen jou deel vir die planeet en los die verdomde goed uit.

Volgens die etiket het Thomson en Gray skepe gebou. Waar hulle tyd gekry het om nog 'n wiksie ook te stook gaan my verstand te bowe. Cthulhu alleen weet hoe hulle voete dit gehou het. Mens kan hom bloots ry maar dis meer in dieselfde stal as 'n Cuttie Shark (of watookal). Jy sal nie te verlee voel as jy hom meng met soda water nie. Of altans gewone water vir Moeder Natuur se onthalwe.

Wat hom in 'n skouspel verander is die turf nasmaak, ten spyte van die res wat glad nie turfagtig is nie. So my mening wissel tussen jig maar dis sleg tot wag, dis tog lekker. Soortvan. En dan neem die walms oor voordat ek kan voorveroordeeld raak.

As jy Cuttie geniet sal jy van hierdie ene hou maar hy knyp nie heeltemal so hard nie. Dis nie eintlik my tipe ding nie - ek waardeer meer mout, hout of puinhoop nasmaak en van hierdie is daar net effe turf.

No comments:

Post a Comment