Saturday, 28 May 2016

Clan Campbell

My hart se punt. Of dalk meeste van die cholesterol punte wat in my hartkamers uitsteek. Nogtans my gunsteling billike wiksie, alhoewel die onlangse Koningin Liesbet en Glenbrynth glad nie te sleg vergelyk nie.

Met die eerste tongtippietoets hoor mens engele sing en harpe uit die hemel. Nogals donders onbeskof en onaangenaam, so jy moet meer slukke neem om die belhamel te kalmeer. Na nog 'n paar slukke hoor jy 'n geween en kners van tande. Dis nou meer my tipe leerore se salf. Gelukkig is daar glad nie swawel betrokke nie.

Hy is lekker glad, soos heuning om die mond en dit voel of jou bek jêm gekry het. Tog nie te hout nie, nie te mout nie, glad nie puinerig nie, alhoewel ek van die puin hou. Mens proe nogals graan en heuning en baie daarvan, maar nie 'n swaar mout smaak nie. Voorwaarlik, my gunsteling goedkoop wiksie en 'n riem onder die hart. Dis my ou staatmaker so ek sal dit vir enige iemand aanbeveel

Friday, 27 May 2016

Grant's

Na my laaste kersiefles aandoening het ek heeltemal vergeet hoe die oorspronklike proe. Toe skaf ek maar die oorspronklike Grant's aan. Hy is omtrent so R170 per bottel, wat omtrent R150 is met inflasie oor die afgelope 2 jaar. En dan boonop sondebelasting. Mens moet mos alles wat goed is belas anders loop mense op hol met te veel pret en te min swoeg en sweet.

Eerstens, net so bloots. Dis 'n voorstaander van my tipe wiksie. Baie hout, min walms, glad nie suurerig of karnelerig of karamelerig nie. Net distilering in 'n skaflike vat. Maar laat hy vir homself praat, jy gaan dit nie berou nie.

Tweedens, met 'n paar blokke ys. Dit sal ook deug as jy nie daarvan hou om jou stem so op te neuk dat jy soos Janis Joplin of een van daardie Muppet-poppekas gaan klink eendag nie. Hy behou sy fatsoen, al is dit meer glansryk en tegemoedkomend. Ek verkies nogtans om bloots te ry, want ek skrik nie vir takke in die donker nie.

As jou begroting dit toelaat, sal ek voorstel dat jy beide hierdie een en sy kersievatniggie probeer. Hulle is altwee goeie kope, en ek hou van die driehoekige bottels. Ek hou ook van die driehoekige glase wat mens soms saam met hulle kry. Maar moet nie dat die bemarkingsfoeife jou mislei nie, dis 'n skitterende wiksie. Selfde met die kersievataandoening - hulle het hulle eie fatsoen, maar mens kan nogtans proe waar hulle vandaan kom.

Hoe proe hy nie? Glad nie soos die Cutty Shark of watookeal nie, glad nie soos Jakkals en Bolf nie. Daardie is die suurerige wiksies waarvan ek praat. Meer in die klas van 'n 100 Puipenaars. So besin maar of jy wil bly by die puipenaars en of jy die ekstra paar randelas wil opdok om iets anders maar nie te vreemd nie te probeer.
Gefällt mir

Tuesday, 5 January 2016

Cutty Sark

My eerste swem saam met die Cutty Sark. Die bottel bevat 'n knertsdemper waarvan jy eers onstlae moet raak. Lyk soos besoedeling waarin die haai verstik het. Totdat die verwyder is, spoeg die haai net sulke snikke whisky in plaas daarvan om van al jou snot en trane onstlae te raak.

Dis dalk my verbeelding maar hy proe baie soos Jakkals en Bolf (J&B), maar minder taai. Is nie 'n slegte whisky nie (is daar so iets?) maar ek verkies een met bietjie meer byt. Sou eerder 100 Pipers of Clan Campbell aanbeveel bo hierdie een, hulle spartel meer voor hulle sink.

Vat 69

Sedert ek die naam gehoor het, het ek gedink ek moet myself met hierdie tipe belasting straf. Na oorlewering het 'n bedorwe Skot 100 vatte wiksie gemeng en toe 'n hele afvaardiging aangestel om te besluit watter vat skort die minste. Snaaks genoeg kon hulle nie verder drink as die 69ste vat nie. Of dis iemand se idee van 'n siek grap, of die ouens was haastig elders heen want vir my lyk 100 vatte verniet wiksie darem nie te versmaaie nie.

Ongelukkig kos dit meer as R69 om die 69 posisie in jou eie huis te posisioneer. Dit was rondom 100 skille.

Jy kan hierdie medisyne maar gerus net so sluk. Hy's nie so taai soos daai Bonnie en Clyde brakke wat hond haaraf raak in jou bek nie. Hy't meer geur as jy wel 'n blok of wat ys indompel. Nie so kenmerkend as en kaldeiras smaak soos meeste Skotse wiksies nie. Hy's soet, maar sappig.

Bonnie & Clyde


Uit die naam sou mens aflei dat dit vernoem is na die maaifoedies wat die lang arm van die gesag afgemaai het in hulle tjor. Die wrak is immers uitgestal by ene Whiskey Pete's. Maar die bottel se etiket laat my daaroor twyfel - dit blyk vernoem te wees na twee patryshonde.

Die een hond het meer spikkels as die ander sodat jy mooi kan verstaan: een heet Bonnie en die ander is Clyde. Ek weet nou nie watter een is watter een nie, want hulle sit te beskaafd. Dit wil voorkom asof beide goeie patryshonde is, tensy daardie patryse nou modeltalent het en baie windmakerig die dood kan na-aap.

Ek weet hulle gee net om oor die prys, en dis dan net so duskant honderd Randelas per bottel. As jy bekommerd is oor die smaak: As jy gewoond daaraan is om bloots te ry, moet jy jouself met net so 2 blokkies ys op die meeste straf dan gaan hy beter af as Eskom se verpligte 'Earth Hour' herdenkings. Proe asof iemand 'n 12 jaar oue Chivas in die sinkdak kleinhuise gaan vlenters skiet het en daar het net so 2 jare behoue gebly. Verkies nogtans 100 Pipers of Clan Campbell bo hierdie ene, maar as die nood druk sal hy deug.