Tuesday, 5 January 2016

Bonnie & Clyde


Uit die naam sou mens aflei dat dit vernoem is na die maaifoedies wat die lang arm van die gesag afgemaai het in hulle tjor. Die wrak is immers uitgestal by ene Whiskey Pete's. Maar die bottel se etiket laat my daaroor twyfel - dit blyk vernoem te wees na twee patryshonde.

Die een hond het meer spikkels as die ander sodat jy mooi kan verstaan: een heet Bonnie en die ander is Clyde. Ek weet nou nie watter een is watter een nie, want hulle sit te beskaafd. Dit wil voorkom asof beide goeie patryshonde is, tensy daardie patryse nou modeltalent het en baie windmakerig die dood kan na-aap.

Ek weet hulle gee net om oor die prys, en dis dan net so duskant honderd Randelas per bottel. As jy bekommerd is oor die smaak: As jy gewoond daaraan is om bloots te ry, moet jy jouself met net so 2 blokkies ys op die meeste straf dan gaan hy beter af as Eskom se verpligte 'Earth Hour' herdenkings. Proe asof iemand 'n 12 jaar oue Chivas in die sinkdak kleinhuise gaan vlenters skiet het en daar het net so 2 jare behoue gebly. Verkies nogtans 100 Pipers of Clan Campbell bo hierdie ene, maar as die nood druk sal hy deug.

No comments:

Post a Comment